Thursday 29 April 2010

Alles bly dieselfde, maar niks is onomkeerbaar

Tydens die ANC se sogenaamde Vryheidsdagvieringe het dié beweging se president, Jacob Zuma, uit sy pad gegaan om melding te maak van die feit dat sekere apartheidswette steeds sou spook in die huidige samelewing. In die verband het hy veral verwys na die woon-patrone wat steeds geld: swartes wat in hulle eie gebiede woon, ver van die werksplek af.

Daar is jarelank al planne om sogenaamde geïntegreerde woongebiede te skep. Die plan was om armer swartes te vestig in laekoste huise, wat opgerig word in parke en oop stukke grond in meer gegoede en tradisioneel blanke woongebiede. Zuma het hiervoor die deur nou weer wawyd oopgemaak.

Eweso is daar die deurlopende valse beskuldiging aan boere dat hulle die grond sou gesteel het en dat daardie grond aan swartes teruggegee moet word. Ook hier laat hulle nie toe dat historiese feite inmeng met hulle politieke ideologie nie.

Dit maak dus nie werklik saak wie as president optree nie: of dit Mandela, Mbeki of Zuma is, almal staan onder die ANC en Kommunistiese ideologie, en almal word gerig volgens hulle Freedom Charter. Ons sal dus baie naïef wees om te glo dat enige ANC-regering, ongeag wie sy president is, en ongeag wie watter kabinetsposisie beklee, dalk beter kan wees as die vorige. Die Zuma-bewind begin nou, nadat hy homself ‘n jaar lank geposisioneer het en sy regte mense in die regte poste aangestel het, sy ware kleur te wys, en dis beslis nie wit nie.

Dit is natuurlik die negatiewe kant. Daar is egter ook ‘n positiewe kant. Dit is die wêreldwye opkoms van volksnasionalisme, wat ons ook onder ons volk weer sien opvlam het veral na die moord op meneer Eugene Terre’Blanche. In Brittanje is die regering van premier Gordon Brown van die Arbeidersparty, in sy doodsnikke. Die invloei van vreemdelinge uit Oos-Europa is vir baie Engelse kommerwekkend, en hulle gaan waarskynlik méér regs en volksnasionalisties stem. Die Belgiese regering het die week tot ‘n val gekom, omdat die konflik tussen Nederlandssprekende Vlaminge en Franssprekende Wale rondom die hoofstad Brussel nie opgelos is nie. Ten spyte van persoonlike skandale rondom die Italiaanse eerste minister, Berlusconi, het sy nasionalistiese party staande gebly en talle aanslae van linkse opponente oorleef.

Wat is die groot rede hiervoor? In die eerste plek het die massa-media sy groot greep op die publiek begin verloor. Sedert die koms van moderne inligtingstegnologie, soos die Internet, is mense nie meer net aangewese op wat die sogenaamde hoofstroommedia hulle voordis nie. Tans word die media nog suiwer vir nuus gebruik, maar ook in Suid-Afrika sien ons dat die media besig is om sy houvas op die publiek begin verloor. Inligting, en spesifiek korrekte en volledige inligting, is nou vir almal toeganklik.

Tweedens kan volksnasionalisme nie geïgnoreer word nie. Die hunkering na die eie identiteit, en die liefde vir eie taal en kultuur, leef by enige normale mens. Slegs die ver afgedwaaldes sal dit wil ignoreer of ontken, dikwels met ontnugtering in hulle latere lewe.

Dit is hierdie twee faktore wat verseker dat politiek dinamies bly. Dit beteken ook dat niks onomkeerbaar is nie, al het FW de Klerk onomkeerbaarheid belowe. Die ANC bly by sy uitgediende kommunistiese beleid. Maar nasionalisme, daarteenoor, is wêreldwyd aan die opvlam, ook onder ons Boere- of Afrikanervolk.

Daarom hoef ons nie moedeloos te raak as ons kyk na die vyand se oormag voor ons nie. Ons het eerstens God aan ons kant, as ons werklik terugkeer na Sy insettinge en verordeninge, en as verootmoedigde volk leef. Maar ons het die gemeenskaplike strewe na vryheid ook, wat sterker is as enige onderdrukker. Die wêreldgeskiedenis is vol van sodanige voorbeelde. Maar die ANC sit met sy interne probleme van verdeeldheid, soos nou weer blyk na die bedanking van Jesse Duarte uit die Presidensie, na spanning. En die SAKP en Cosatu begin ook al grom na die ANC. Enigiets kan daaruit gebeur, en kan vir ons geleenthede skep, as ons reg is om dit te kan benut. En die tekens word al hoe duideliker dat ons onsself begin regkry!

No comments: