Thursday 29 April 2010

Watter Malema kies jy?

Daar gaan 'n tyd kom dat ons moontlik nog gaan terugverlang na die dae toe Julius Malema as ietwat belaglike randfiguur van die verhoog af groepe jeugdiges aangespoor het om rassistiese liedjies te sing. Toe die koerante hom lekker aangevat het oor sy swak skoolrapport en ander leiers in die Jeugliga nog kans gesien het om hom uit te daag vir die leierskapsposisie.

Dit is duidelik nie nodig om slim te wees op skool om polities slinks te wees nie. Malema kon immers leer by een van die beste politieke oorlewers van alle tye, Jacob Zuma. Nou is die student besig om sy leermeester uit daag.

Kom ons kyk na die hele patroon, die ontwikkeling van 'n politieke loopbaan wat heel waarskynlik presidentskap as einddoel het.

Eers is daar gewerk aan sy plaaslike gewildheid. Dit is gedoen deur werklik op die grondvlak, by jeugbyeenkomste en enige ander plek waar gefrustreerde, waarskynlik werklose, jeugdiges bymekaar is, na vore te tree as vreeslose leier.

Die, nou oorbekende, sogenaamde “struggle”-liedjie waarvan min mense vroeĆ«r gehoor het, is berekend gebruik om nie net op die gewildheidsleer te vorder nie, maar om ook 'n gemeenskaplike vyand vir die opruibare jeug te vind, naamlik witmense en veral die boere.
Hierin het hy die media meesterlik hanteer. Die media was vasgevang in 'n situasie dat hulle nie die nuuswaarde van die uitdagende houding kon ignoreer nie, al was hulle deeglik bewus van die status wat aan Malema gegee word.
Malema het sy doel bereik om 'n huishoudelike naam in Suid-Afrika te word. Hy was al in elke koerant op die voorblad en sy gesig sal vir altyd op verkiesingsplakkate en t-hemde herken word.

Die volgende stap moet noodwendig wees dat die leierskap van die ANC uitgedaag word. Dit sien ons in sy uitsprake teen ANC-beleid oor byvoorbeeld die nasionalisering van myne en natuurlik in die traagheid van die ANC om hom tot orde te roep oor sy opruiende liedjies en uitsprake.
Nou is daar die buitelandse besoeke aan sosialisties/kommunistiese lande. Ons het al vantevore verwys na die Nasionaal Demokratiese Rewolusie in Suid-Afrika wat nog nie volvoer is nie. Die besoeke aan lande soos Zimbabwe, Venezuela, Kuba en moontlik Sjina is deel van die rewolusie.

Dit word beskryf as studiereise, maar dit is natuurlik veel meer as dit.
Ons is seker dat Malema al alles oor nasionalisering in sy voorgangers se kommunistiese handboeke gelees het. Hy is ook deeglik bewus daarvan dat selfs die SA Kommuniste Party blatante nasionalisering van myne afgeskiet het.
Die besoeke is deel van sy uitdaging aan die ANC-leierskap en om homself te vestig as leier in eie reg. Daarby brei hy ook sy ondersteuningsbasis uit deur die ANC se ou “struggle”-vriende aan sy kant te kry. Daar is ook hardnekkige gerugte oor kaders wat in hierdie lande bymekaar gemaak word vir die voortgesette rewolusie in Suid-Afrika.
Daar is nie veel wat ons aan hierdie groeiende gevaar kan doen, behalwe om die waarheid so hard en duidelik as moontlik te verkondig nie, en om nog net meer gesteld te wees op ons eie veiligheid en die skep van netwerke vir beskerming.

No comments: