Tuesday 6 April 2010

Van Riebeeck Dag

Dit is vandag 358 jaar gelede dat Jan van Riebeeck en sy ongeveer ‘n 100 man in Tafelbaai voet aan wal gesit het. Saam met hom, byna as ‘n soort onsigbare pakket, het hy die beskawingserfenis van die Christelike, Westerse wêreld hier kom plant. Nie dat sy mense sulke fyn-beskaafde mense was nie, maar hulle het uit daardie leefwêreld gekom.

So het, vir die eerste keer in die geskiedenis van Suidelike Afrika, ‘n hardwerkende, doel-bepaalde gemeenskap hulle hier gevestig. Algaande het hulle en hulle nasate die aangesig van Suidelike Afrika verander. Die kinders van Europa is mos rustelose, immer-besige, hardwerkende, ondersoekende mense wat bou en verander en altyd probeer verbeter en vooruit gaan. Geen wonder dat hulle teenwoordigheid en bedrywigheid as steurend, verdrukkend en onnodig ervaar is…’n teenwoordigheid wat wrewel en afguns en haat opgeroep het want hulle het die rus, die noodsaak om niks te doen, versteur.

Interessant is verder dat die Hollanders van Jan van Riebeeck se tyd en daarna, anders as die Engelse, nie ‘n kolonie aan die Kaap wou vestig nie. Die Hollanders, so lyk dit, is nie lief daarvoor om ander mense te onderwerp, oor hulle te regeer en hulle te verdruk nie. Daardie tradisie word eers vanaf 1806 met nadruk hier ingedra.

Die opvallende van die Hollanders was dat hulle langs die inheemse volke hulle verversingspos wou vestig. Dit was ook nie moeilik nie want die Hottentotte was swerwer-veeboere wat nie aan een plek gebind was nie. Vandaar dat Van Riebeeck betreklik maklik in vreedsame naasbestaan sy verversingspos kon opbou.

‘n Tweede interessantheid was dat Van Riebeeck, in 1654, twee jaar na sy aankoms, begin het om die dag en datum van sy landing te gedenk. Daarvoor het hy 6 April as ‘n vas-blywende dank- en biddag ingestel…”sodat daarby die weldade van die Here wat Hy aan ons bewys het, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis in herinnering gehou sal word.”

In ons dae waar die Afrikaner altyd in die spervuur is, word deesdae nogal heelwat daarvan gemaak dat die Afrikaner homself as ‘n “uitverkore volk” sou beskou. Die argument word dan gebruik om aan te dui hoe agterlik die Afrikaner in sy denke sou wees.

Die soort verdraaide denke is miskien moontlik omdat die Afrikaner nie skaam was om aan te dui dat hy onder ‘n verpligting teenoor God staan nie en dit uitgedruk het deur die begrip “roeping”. Net so word die feit dat die Afrikaner ‘n paar maal ‘n Gelofte aan God afgelê het, uitgelê as ‘n bewys dat die Afrikaner homself as uitverkore beskou. As gelet word op die teks van die Geloftes wat die Afrikaner gemaak het, dan is dit duidelik dat die Afrikaner ‘n baie duidelike besef het dat hy ‘n verpligting teenoor God het en nie andersom nie! Want al die Afrikaner-Geloftes verplig telkens die volk opnuut tot die diens van God! Dit dui eerder op gehoorsaamheid en diensbaarheid aan God.

In Van Riebeeck se Gelofte word duidelik gesê dat vanweë die feit dat die Here God sy hand oor die nedersetting gehou het en hulle geseën het, daarom sal hulle 6 April in dankbaarheid gedenk sodat hulle daarin nie sal tekortskiet nie. Hierdie saak is belangrik want ons wat mens is, is gou om tot God te roep vir hulp, maar nie altyd so nadenkend om ons dankbaarheid uitdruklik te betoon nie. Miskien kan dit daarom oorweeg word, al is dit net in ons Afrikaanse kerke, om die Gelofte van Van Riebeeck op 6 April in ere te hou en te gedenk om so God vir sy ontferming te dank.

No comments: