Thursday 29 April 2010

Alles bly dieselfde, maar niks is onomkeerbaar

Tydens die ANC se sogenaamde Vryheidsdagvieringe het dié beweging se president, Jacob Zuma, uit sy pad gegaan om melding te maak van die feit dat sekere apartheidswette steeds sou spook in die huidige samelewing. In die verband het hy veral verwys na die woon-patrone wat steeds geld: swartes wat in hulle eie gebiede woon, ver van die werksplek af.

Daar is jarelank al planne om sogenaamde geïntegreerde woongebiede te skep. Die plan was om armer swartes te vestig in laekoste huise, wat opgerig word in parke en oop stukke grond in meer gegoede en tradisioneel blanke woongebiede. Zuma het hiervoor die deur nou weer wawyd oopgemaak.

Eweso is daar die deurlopende valse beskuldiging aan boere dat hulle die grond sou gesteel het en dat daardie grond aan swartes teruggegee moet word. Ook hier laat hulle nie toe dat historiese feite inmeng met hulle politieke ideologie nie.

Dit maak dus nie werklik saak wie as president optree nie: of dit Mandela, Mbeki of Zuma is, almal staan onder die ANC en Kommunistiese ideologie, en almal word gerig volgens hulle Freedom Charter. Ons sal dus baie naïef wees om te glo dat enige ANC-regering, ongeag wie sy president is, en ongeag wie watter kabinetsposisie beklee, dalk beter kan wees as die vorige. Die Zuma-bewind begin nou, nadat hy homself ‘n jaar lank geposisioneer het en sy regte mense in die regte poste aangestel het, sy ware kleur te wys, en dis beslis nie wit nie.

Dit is natuurlik die negatiewe kant. Daar is egter ook ‘n positiewe kant. Dit is die wêreldwye opkoms van volksnasionalisme, wat ons ook onder ons volk weer sien opvlam het veral na die moord op meneer Eugene Terre’Blanche. In Brittanje is die regering van premier Gordon Brown van die Arbeidersparty, in sy doodsnikke. Die invloei van vreemdelinge uit Oos-Europa is vir baie Engelse kommerwekkend, en hulle gaan waarskynlik méér regs en volksnasionalisties stem. Die Belgiese regering het die week tot ‘n val gekom, omdat die konflik tussen Nederlandssprekende Vlaminge en Franssprekende Wale rondom die hoofstad Brussel nie opgelos is nie. Ten spyte van persoonlike skandale rondom die Italiaanse eerste minister, Berlusconi, het sy nasionalistiese party staande gebly en talle aanslae van linkse opponente oorleef.

Wat is die groot rede hiervoor? In die eerste plek het die massa-media sy groot greep op die publiek begin verloor. Sedert die koms van moderne inligtingstegnologie, soos die Internet, is mense nie meer net aangewese op wat die sogenaamde hoofstroommedia hulle voordis nie. Tans word die media nog suiwer vir nuus gebruik, maar ook in Suid-Afrika sien ons dat die media besig is om sy houvas op die publiek begin verloor. Inligting, en spesifiek korrekte en volledige inligting, is nou vir almal toeganklik.

Tweedens kan volksnasionalisme nie geïgnoreer word nie. Die hunkering na die eie identiteit, en die liefde vir eie taal en kultuur, leef by enige normale mens. Slegs die ver afgedwaaldes sal dit wil ignoreer of ontken, dikwels met ontnugtering in hulle latere lewe.

Dit is hierdie twee faktore wat verseker dat politiek dinamies bly. Dit beteken ook dat niks onomkeerbaar is nie, al het FW de Klerk onomkeerbaarheid belowe. Die ANC bly by sy uitgediende kommunistiese beleid. Maar nasionalisme, daarteenoor, is wêreldwyd aan die opvlam, ook onder ons Boere- of Afrikanervolk.

Daarom hoef ons nie moedeloos te raak as ons kyk na die vyand se oormag voor ons nie. Ons het eerstens God aan ons kant, as ons werklik terugkeer na Sy insettinge en verordeninge, en as verootmoedigde volk leef. Maar ons het die gemeenskaplike strewe na vryheid ook, wat sterker is as enige onderdrukker. Die wêreldgeskiedenis is vol van sodanige voorbeelde. Maar die ANC sit met sy interne probleme van verdeeldheid, soos nou weer blyk na die bedanking van Jesse Duarte uit die Presidensie, na spanning. En die SAKP en Cosatu begin ook al grom na die ANC. Enigiets kan daaruit gebeur, en kan vir ons geleenthede skep, as ons reg is om dit te kan benut. En die tekens word al hoe duideliker dat ons onsself begin regkry!

Watter Malema kies jy?

Daar gaan 'n tyd kom dat ons moontlik nog gaan terugverlang na die dae toe Julius Malema as ietwat belaglike randfiguur van die verhoog af groepe jeugdiges aangespoor het om rassistiese liedjies te sing. Toe die koerante hom lekker aangevat het oor sy swak skoolrapport en ander leiers in die Jeugliga nog kans gesien het om hom uit te daag vir die leierskapsposisie.

Dit is duidelik nie nodig om slim te wees op skool om polities slinks te wees nie. Malema kon immers leer by een van die beste politieke oorlewers van alle tye, Jacob Zuma. Nou is die student besig om sy leermeester uit daag.

Kom ons kyk na die hele patroon, die ontwikkeling van 'n politieke loopbaan wat heel waarskynlik presidentskap as einddoel het.

Eers is daar gewerk aan sy plaaslike gewildheid. Dit is gedoen deur werklik op die grondvlak, by jeugbyeenkomste en enige ander plek waar gefrustreerde, waarskynlik werklose, jeugdiges bymekaar is, na vore te tree as vreeslose leier.

Die, nou oorbekende, sogenaamde “struggle”-liedjie waarvan min mense vroeër gehoor het, is berekend gebruik om nie net op die gewildheidsleer te vorder nie, maar om ook 'n gemeenskaplike vyand vir die opruibare jeug te vind, naamlik witmense en veral die boere.
Hierin het hy die media meesterlik hanteer. Die media was vasgevang in 'n situasie dat hulle nie die nuuswaarde van die uitdagende houding kon ignoreer nie, al was hulle deeglik bewus van die status wat aan Malema gegee word.
Malema het sy doel bereik om 'n huishoudelike naam in Suid-Afrika te word. Hy was al in elke koerant op die voorblad en sy gesig sal vir altyd op verkiesingsplakkate en t-hemde herken word.

Die volgende stap moet noodwendig wees dat die leierskap van die ANC uitgedaag word. Dit sien ons in sy uitsprake teen ANC-beleid oor byvoorbeeld die nasionalisering van myne en natuurlik in die traagheid van die ANC om hom tot orde te roep oor sy opruiende liedjies en uitsprake.
Nou is daar die buitelandse besoeke aan sosialisties/kommunistiese lande. Ons het al vantevore verwys na die Nasionaal Demokratiese Rewolusie in Suid-Afrika wat nog nie volvoer is nie. Die besoeke aan lande soos Zimbabwe, Venezuela, Kuba en moontlik Sjina is deel van die rewolusie.

Dit word beskryf as studiereise, maar dit is natuurlik veel meer as dit.
Ons is seker dat Malema al alles oor nasionalisering in sy voorgangers se kommunistiese handboeke gelees het. Hy is ook deeglik bewus daarvan dat selfs die SA Kommuniste Party blatante nasionalisering van myne afgeskiet het.
Die besoeke is deel van sy uitdaging aan die ANC-leierskap en om homself te vestig as leier in eie reg. Daarby brei hy ook sy ondersteuningsbasis uit deur die ANC se ou “struggle”-vriende aan sy kant te kry. Daar is ook hardnekkige gerugte oor kaders wat in hierdie lande bymekaar gemaak word vir die voortgesette rewolusie in Suid-Afrika.
Daar is nie veel wat ons aan hierdie groeiende gevaar kan doen, behalwe om die waarheid so hard en duidelik as moontlik te verkondig nie, en om nog net meer gesteld te wees op ons eie veiligheid en die skep van netwerke vir beskerming.

Thursday 22 April 2010

Waarvoor belasting betaal?

Boere is self verantwoordelik dat plase onveilig is, en boere steel hulle eie vee. Dit is die jongste in die deurlopende stroom van beskuldigings wat boere ten laste gelê word deur die ANC-bewind. Maar hierdie stelling is seker een van die mees belaglike, arrogante en ongevoelige uitsprake waarmee die ANC nog vorendag kon kom, en dit nogal in ‘n portefeuljekomitee in die parlement.
Die parlement is juis die land se hoogste liggaam, wat moet toesien dat die land ordelik bestuur word, en dat die landsburgers in vrede EN veiligheid leef. Heel duidelikheid is daar van beide nie veel oor nie. Volgens die getuienis van talle motoriste wat gister in en om Pretoria geteister en gedreig is deur stakende minibus-taxi-eienaars, was daar geen sprake van vrede of veiligheid nie. En met sowat twee duisend boere wat al op hulle plase vermoor is in ongeveer twaalf duisend plaasaanvalle, is daar geen sprake van veiligheid nie. As boere dan daardie onrusbarende feit onder die aandag van die owerhede bring, word hulle afgelag.

Die ANC-bewind kla dat boere nie by die plaasvervanger van die kommandostelsel, naamlik die sektor polisiëring, betrokke raak nie. Eerstens kan boere net betrokke raak by iets wat werk, en waar hulle verwelkom word as deel van die oplossing, en waar hulle nie as die probleem uitgekryt word nie. Talle boere was bereid om reserviste te word, maar aansoeke vir reserviste is of nie aanvaar nie, of het weggeraak, of is eenvoudig nie verwerk en afgehandel nie.

Die ANC het weer eens met beskuldigings gekom dat boere hulle plaaswerkers mishandel en onwettige immigrante gevange hou. Die feit is egter dat boere en hulle arbeiders erg op mekaar aangewese is, en daarom is daar tussen hulle oor dekades heen juis besonder goeie verhoudinge opgebou. Dit is egter sedert die inmenging van vakbonde, veral op die jonger garde, dat hierdie verhoudinge versuur het. Maar weer eens kom die ANC met algemeenhede en vaaghede, en lê geen enkele bewys neer om dit te staaf nie. En weer eens gaan die boodskap na plaaswerkers uit dat hier deur die bewindhebbers by voorbaat ‘n regverdiging geskep word vir wat ook al kan gebeur.

Die feit is dat die ANC-regering geen verantwoordelikheid vir enigiets aanvaar nie, nie eens vir die plig wat sy eie Grondwet hom oplê om toe te sien dat elke landsburger in vrede en veiligheid kan werk nie. Maar daardie selfde ANC-lede wat boere nou uitskel en in `n swak lig probeer stel, wil wel elke aand met ‘n vol maag in die bed klim, voorsien met kos wat daardie selfde boer vir hom moet produseer. En verder moet die boere maar sien kom klaar. Hy betaal net soveel belasting as enige ander landsburger. Maar hy kry daarvoor net mooi niks nie, behalwe stank vir dank. Waarom sal boere nog belasting betaal, is die vraag wat onwillekeurig ontstaan?

As die arbeiders dan so sleg behandel word, waarom gaan hulle dan nie weg by die boer nie? Waarom gaan staan hulle dan nie by hulle wonderlike regering bakhand nie, in die toue vir maatskaplike- en werkloosheidstoelaes? Want hulle wéét die boere sorg beter vir hulle as hulle eie regering! TLU SA het al aan die hand gedoen dat boere maar moet kyk na meganisering of ander arbeid om sodoende van hierdie probleme ontslae te raak. Dan moet die ANC nie tjank nie, want hy krap gedurig waar dit nie jeuk nie.

As landbou-unies dan selektief genooi word om die portefeuljekomitee in te lig oor hulle probleme (in die geval waarna ons verwys was Agri SA daar, terwyl TLU SA nie genooi is nie) en hulle word uitgelag en verneder, word dit duidelik dat daardie kanaal ook geen opsie meer is nie. Dalk moet boere tog weer begin kyk na moontlikhede van voedsel- en belastingweerhouding. Maar ook dit kan net ‘n tydelike maatreël wees.

Solank ook die boere onder ‘n volksvreemde en volksvyandige bewind staan, sal hierdie probleme bly voortduur. Uiteindelik sal ook die boere die beste daaraan toe wees in ‘n eie land, onder ‘n eie republikeinse regering wat besef wat die waarde van die boere en hulle bydrae tot voedselsekerheid is.

Wednesday 21 April 2010

Ras, rassisme en vanselfsprekende feite

Die linksgesinde openbare media, veral die Afrikaanse koerante, het blykbaar die taak op hulself geneem om rassisme wortel en tak uit te roei, maar met hulle gewone dubbele standaarde. Dat die aanstelling van regters moet voldoen aan rasvereistes, is nie vir hulle so erg nie. Solank dit net nie lyk of daar blankes is wat dalk hunker na die weelde van selfregering nie. So asof die werklikheid sal verdwyn as daaroor geswyg word.

‘n Mens kan jouself dalk oortuig dat daar diegene is wat eerlike en edele bedoelings het om rassisme te laat verdwyn. In die openbare media is rassisme egter meesal net die verskoning vir Afrikanervyandigheid.

Die feit dat die interne struwelinge in die ANC sterk etnies-gedrewe is, word verswyg. Dít, sê die media, is ANC-huismoles en buitendien behoort Zoeloes en Xhosas aan dieselfde ras. Rassisme is blankes wat nie wil aanvaar dat swartes die land kan regeer en dit inderdaad doen nie! Om terug te hunker, of erger nog, uit te sien, na blanke selfregering, is growwe rassisme.

Die regering se beleid van diskriminasie teen blankes, word nie naastenby so skerp deur die openbare media veroordeel nie. Hulle reken skynbaar hulle hou die balans deur rassisme tirades op Malema uit te stort. Só val hulle mos die euwel uit alle rigtings aan en die Afrikanerlesers behoort darem nie te voel hulle is altyd aan die ontvangkant nie.

Dat rassisme aan die oplaai is, is geen verrassing nie. Die kultuurverskille tussen mense loop ook duidelik op die rasseskeidslyn. Kultuur is meer as taal, kookkuns, danspassies en rituele. In Suid-Afrika wys kultuurverskille duidelik in die aanvaarding van verantwoordelikheid, voorsiening vir die toekoms, produktiwiteit, en integriteit. Dit is eintlik die maghebbers se manier om deur regeringsoptrede die welvaart in te palm sonder om daarvoor te werk, wat blankes die harnas in jaag.

Die inslaan van die Afrika-roete, wat die een na die ander staat oor die afgrond van magsvergryp, geweld en anargie laat stort het, móét mos die nugterdenkende Afrikaner na die bekende alternatief van selfregering laat kyk.

As daar ooit ‘n tyd was om die Europese model na te volg, is dit nou. Die vooruitgang van daardie volkere, staatkundig van mekaar se kultuurverskille geskei, hoef nie eers beredeneer te word nie. Die Duitsers en die Oostenrykers bedryf elk hulle eie universiteite en stel rektore aan op meriete, kies hulle eie spanne sonder kwotaspelers en stel hulle eie regerings aan, sonder ‘n soustrein. Albei volke praat Duits en het tipiese germaanse raseienskappe. Die Duits-Oostenrykse kultuurverskil is waarskynlik kleiner as die Zoeloe-Xhosa kultuurverskil.

Onweerstaanbare magsug, simptomaties van die Afrikamislukkings, dwing egter soveel moontlik onder een maghebber in. Mugabe huiwer nie eers om sy politieke invloed met weermaggeweld af te dwing nie.

Dat die ANC weinig kritiek het teen hulle “struggle”-vriend Mugabe se optrede, is logies. Dat daar van Afrikaners verwag om voor te gee dat ras geen rol speel in die negatiewe wat ons daagliks uit ons staatkundige opset ervaar nie, is sotheid.

As die erkenning van rasverskille deel vorm van logika, dan is dit nou maar eenmaal so en as die keiser kaal is, moet iemand dit een of ander tyd sê!

Monday 19 April 2010

Afrikaans in ver-linkse politiek getrek

Twee geleenthede waar Afrikaans as tema gedien het, het die naweek plaasgevind.

Die eerste was die jaarlikse Veertjie-toekennings van die ATKV, waar persoonlikhede in die Afrikaanstalige media vereer is. Soos gewoonlik was dit die tradisionele mediagroepe soos Media 24 en SAUK wat met feitlik alle toekennings weggestap het. Tydens van die kommentare wat van die pryswenners na die tyd gelewer het, het enige spreker van algemeen beskaafde en suiwer Afrikaans homself die vraag gevra hoe so ‘n persoon so ‘n toekenning kon kry, want die gebrabbel wat in sommige gevalle gehoor is, het wel bepaalde herkenbare Afrikaanse woorde voortgebring, maar dit was so deurspek met ander volksvreemde klanke, dat dit in geheel tog nie meer as Afrikaans beskryf kan word nie.

Skynbaar het die ATKV ook nog nie kennis geneem nie van die talle gemeenskapsradiostasies wat dit juis ten doel stel om Afrikaans in sy suiwere vorm te beskerm en te bevorder. Wat moeite doen om selfs nuwe Afrikaanse woorde te vind sodat ons taal verryk word met nuutskeppings, en nie vervlak deur die klakkelose oorname van volksvreemde woorde, terme en slagspreuke ter wille van gemak of politieke korrektheid nie.

Daarenteen was die funksie van die sogenaamde Forum vir Swart Afrikaanses in die Kaap gekenmerk deur uitstekende grammatikale taalgebruik, alhoewel dit duidelik hoorbaar was dat daardie Swart Afrikaanses Afrikaans nie as normale spreektaal besig nie. Trouens, baie van hulle praat Afrikaans nie tuis nie. Ons het geen rede om te vermoed dat die ANC se Trevor Manuel tuis in Afrikaans kommunikeer met sy Maria Ramos nie.

Heel duidelik is hier ‘n poging om Afrikaans vierkantig in die ANC se ver-linkse politieke arena in te trek, en om juis nou, in ‘n tyd van rasse verdeeldheid, ‘n nuwe kunsmatige brug te bou, naamlik deur die taal.

Die feit dat die forum die naam “Swart” in sy opskrif het, wys dat hulle nie besig is met sogenaamde nasiebou of versoening nie. Nee, soos hulle ons plek- en straatname van ons geroof het, is hier ‘n duidelike poging om ook ons mooie Afrikaanse taal van ons weg te roof, en dit onder ‘n swart en ver-linkse sambreel te plaas.

Ons het mos al gesien wat beteken die woord “swart” in ANC-terme? Swart ekonomiese bemagtiging, beteken diskriminasie teen bekwame blanke werkers. Die Swart regslui vereniging, is hatig teen blanke regslui. Die swart redakteursforum, probeer so ver moontlik afstand hou van blanke joernaliste, en so kan ons maar al die swart instansies en forums opnoem. Daarom verwag ons presies dieselfde optrede van die Forum vir Swart Afrikaanses.

Ons sal egter moet waak dat ons nie in hulle strik gaan trap, en ter wille van die Afrikaanse taal, ons gaan laat insluk by hulle swart nasieboupogings nie. Hulle sê juis dat Afrikaans nou versoening gaan bewerkstellig. Die feit dat hulle Afrikaans praat, maak nie van hulle Afrikaners nie. Die Afrikaanse taal het uit die Boere- of Afrikanervolk ontstaan, en is deur daardie volk ontwikkel tot wetenskaps- en akademiese taal. Dit is juis die Afrikanervolk wat vandag die taalvegters is teen die Engelse alleenoorheersing in ‘n sogenaamde meertalige land. Nie alle sprekers van ‘n taal kan dadelik aanspraak maak op volkskap van die eienaar van die taal nie. In Europa praat baie mense Duits, maar nie almal is Duitsers nie. Baie van ons mense praat Zoeloe, maar is daarom nie Zoeloes nie. Daarom is die Forum vir Swart Afrikaanses hoegenaamd nie verbindbaar met die Afrikanervolk nie. Hulle poog om ons taal van ons te vervreem en te beroof, hulle is nie Afrikaans moedertaalsprekers nie, is baie naby aan die ANC geposisioneer, en daarom nie ons vriende nie, maar waarskynlik taalwolwe in skaapsgewaad wat die taal in die ver-linkse politieke arena wil trek, en verkieslik ons daarmee saam. Laat ons dus maar lig loop en ons nie laat flous deur hulle netjiese taalgebruik nie.

Laat dit ons eerder aanspoor om ons taal nog meer suiwer te hou.

Thursday 15 April 2010

Wie vorm jou mening?

Ons is gevaarlik blootgestel. Die misleiding van ons mense deur die destydse Nasionale Party en sy vennote, en dié se welkome verdwyning, het ’n leemte gelaat, wat deur ’n nog gevaarliker mag ingeneem is. Die aanslag kom nou uit ’n oord wat ons nog steeds in ons huise toelaat, naamlik die groot Afrikaanse koerante. Party van ons weet darem teen dié tyd dat die televisie ‘n Trojaanse perd is.

Die gemelde koerante kom uit die Media24-stal. Op die oog af, bewonderenswaardig Afrikaans, word waar moontlik deur werklose volksgenote verkoop en dra gereeld ’n waardevolle Christelike boodskap. Kyk egter dieper.

Die onlangse moord op ’n groot leier in Afrikanergeledere, het die koerante se ware kleure blootgelê. Dat daar reeds meer as 3000 plaasmoorde op blankes was sedert “demokrasie”, dat die AWB reeds jare al ’n lae profiel handhaaf, en dat die moord op Eugène TerrèBlanche deel is van ’n opwellende vlaag plaasmoorde, hou vir Rapport blykbaar geen verband nie. Die Rapportberig wil so graag die AWB met die Malema-spul gelykstel. Oor die Cosatu-betoging ter ondersteuning van die moordenaars, rep hy g’n woord nie. Ook die hoofberig swyg oor Cosatu se militantheid en uitlokkende optrede deur byvoorbeeld ‘n massavergadering op Ventersdorp te reël om met die Eugène Terre’Blanche-begrafnis saam te val.

In weerwil van die groot rol wat Solidariteit en dr Dirk Hermann speel met betrekking tot die belange van veral blankes en die beskerming van wit en swart se burgerregte, wy Rapport op 4 April 2010 bykans ’n hele hoofartikel daaraan om dr Hermann af te skiet. Solidariteit se aansienlike suksesse word verswyg en arm Afrikaners se ellende word uitgebuit om hulle aan ANC-genade uit te lewer.

’n Week later laat professor Jakes Gerwel, voormalige ANC-presidensiële raadgewer, die aap uit die mou. Solidariteit móés die vorige week afgekraak word sodat dit darem nie té belaglik klink nie, as die geleerde professor voorstel dat Cosatu die leisels moet vat om, te midde van die verdeeldheid in die Suid-Afrikaanse bevolking, die “gedeelde goedheid” in die regte rigting te stuur.

Dit is nou die instansie wat steeds kommunisme en swart bevoordeling aanhang ondanks bewese mislukking.

Stakings en massa-aksie is tot nou toe Cosatu se belangrikste suksesse, tensy professor Gerwel weet van prestasies wat om een of ander rede geheim gehou word.

’n Verdere Rapport-slimmigheid sien op 11 April 2010 die lig toe Mathatha Tshedu, hoof van Media24 se Joernalistieke Akademie, sy standpunt stel. Nadat hy sy verlede as ANC-terroris so terloops meld, stel hy dit duidelik dat hy nie dink die gewraakte Malema-lied moet verbied word nie. Daarby is hy van mening dat die beweerde loongeskil tussen Eugène Terre’Blanche en sy moordenaars, meer sensitiwiteit regverdig. Dat ET sy verdiende loon gekry het, is die stelling wat hy eintlik maak.

Natuurlik is ons nie verras deur Gerwel en Tshedu se standpunte nie. Dit is presies wat ons van hulle as ANC-dissipels verwag! Die gesag waarmee die twee in die Afrikaanstalige koerante beklee is, die gedweënheid van die joernaliste met Afrikaansklinkende name wat die leiding van Tshedu en Gerwel aanvaar en die argeloosheid waarmee Afrikaanssprekendes die koerante in hulle huise ontvang, is die onrusbarende verrassing. Ons word daagliks besmeer met hierdie tipe berriggewing deur Afrikaanstalige koerante.

Moet ons Volk se vyand juis ’n bom in Kerkstraat laat ontplof of ‘n buurman met pangas dood kap voor ons hom sien vir wat hy is?

Friday 9 April 2010

Bly aan die regte kant

Al hoe meer voorvalle vind plaas waardeur die politieke klimaat in die land opgejaag word. Dit wil voorkom of die blanke uitgetart en geprovokeer word tot die uiterste toe. Dit is nie net die moorde op ons boere, ons volksgenote, ons leiers nie, maar die openlike uittarting, en die aanhitsing teen ons wat waarskynlik op die lange duur nog meer gevolge gaan inhou.

Intussen is dit duidelik dat die blanke oor die algemeen tans baie beheers optree, alhoewel hy in werklikheid kokend van woede is.

Die ANC-regering het waarskynlik gehoop vir voorvalle van opstand of vergelding, wat dan vir hulle die geleentheid sou kon gee om weer eens met kragdadigheid toe te slaan om ‘n beweerde blanke opstand teen die staat plat te slaan, en ons weer eens in die beskuldigdebank sou kon plaas.

Daardie voorvalle het nie plaasgevind nie, en ons merk ‘n frustrasie onder ANC-geledere dat die Afrikaners en die blankes in die algemeen, steeds die sogenaamde hoëgrond beset. Vandaar die een provokerende optrede na die ander: om ‘n AWB-man in ‘n TV-debat die lewe sodanig te versuur dat hy moet uitstap, of Malema wat ‘n blanke joernalis wegjaag en hom as ‘n “basterd” beskryf.

Intussen woel dit in polisiegeledere. Daar is selfs al uit polisiegeledere die bewering gemaak dat blankes self vir die moord op mnr. Eugene Terre’Blanche verantwoordelike was, om ‘n situasie te laat ontstaan wat die Wêreldbeker-sokkertoernooi kan laat ontspoor. Enkele van die laaste oorblywende goedgesindes in die polisie het ook al gewaarsku dat daar weer klopjagte beplan word op blanke en sogenaamd regse leiers, en dat selfs goed geplant kan word om ‘n rede te hê om hulle te kan arresteer.

Die feit van die saak is dat dit die laaste tyd duidelik geword het dat die Boerevolk weer besig is om op te staan, en dat daar onder die Afrikanergemeenskap ‘n al groter wordende gees van verset besig is om pos te vat. Dit word bewys deur herhaalde meningsopnames waaruit dit blyk dat die Afrikaners genoeg gehad het van die bestel en die eenheidstaat en aan alternatiewe begin dink. Daardie gees van verset moet vernietig word, want die ANC weet ook dat die Boerevolk, die Afrikanersakeman, die gans is wat die goue eiers lê en wat sy ekonomie aan die gang hou. Daarom moet daar eenvoudig ‘n stok gevind word om hom mee te slaan.

Ons moet egter sorg dat ons geen stok in sy hand kan plaas nie. Ons moet wel die bestaande situasie gebruik om deeglik te beplan en nuut te dink oor hoe ons kan oorleef op die kort termyn, maar hoe ons kan vry word op die langer termyn. Ons moet sorg dat daar geen vinger na ons gewys kan word in terme van bestaande wetgewing nie. Daarom moet volksgenote seker maak dat hulle nie, dalk selfs net per ongeluk, in besit is van enige onwettige materiaal nie. Gaan u kluis deur, en maak seker dat daar nie dalk ‘n verdwaalde patroon is van ‘n wapen wat u lank terug al verkoop het nie. Sorg dat u nie eens een of ander grappie op u rekenaar het, wat later gebruik sou kon word as dat u dalk opruiende materiaal in u besit het nie.

As die polisie dalk met hulle hordes wil kom om huissoeking te doen, sorg dat u prokureur of advokaat se nommer byderhand is, en laat weet hulle dadelik, nog voordat die deur vir die polisie oopgemaak word. Maak seker dat die wat daar is, wel polisielede is. Vra om die deursoekingslasbrief deur die venster te sien, sonder om deure oop te maak. Maak seker die polisieman se aanstellingsertifikaat is geldig. En beweeg saam met die deursoekingspan, indien moontlik met nog ‘n getuie, sodat hulle nie goed kan plant en u later daarvoor vervolg word nie.

Tot dusver kon ons mense nog nie op die groot goed gevang word nie, moet nie nou onnodig op risiko geplaas word deur klein foutjies nie, maar laat ons meer as ooit onsself wetlik korrek beveilig, en inmiddels net so wetlik korrek werk en bou aan ons republikeinse onafhanklikheid, wat nou dringend word.

Thursday 8 April 2010

Wat is in jou hart?

Die Boerevolk is al vergelyk met meeste dinge wat in die oë van die mensdom afskuwelik en veragtelik is. Ons volk is al vergelyk met die kolonialistiese Brittanje, teen wie ons so bitterlik geveg het gedurende die laaste groot stryd vir volksvryheid en selfbeskikking.

As vryheidsliewende mense is ons beskuldig van onvergewensgesindheid en haatsugtigheid. Daar is van ons gesê dat die Boerevolk se smagting na mag die septer van baasskap laat swaai het oor al die ander volke van Suid-Afrika, en selfs oor die hele Afrika. Dat die Boer homself en sy volksgenote reken as uitverkore.

In dié lig is die Boerevolk dan ook al vergelyk met dit wat van die Nazi’s van die tweede wêreldoorlog uitgebeeld word.

Die enigste hartseer waarheid in al hierdie aantygings is dat die meeste Afrikaners met tyd die valshede begin glo het en sodoende dan ook die Judaskleed aangetrek het, meestal uit eie wil en uit weersin vir die beeld waarmee die Boerevolk deur die vyand se propaganda-masjien opgesaal is.

Dit was tot onlangs die algemene persepsie dat die Afrikaner skuldig, nederig en vernederd moet voortsukkel. Rug gebuig, hoof hangend, trots vertrap en siel gebroke. Net te bly vir die krummels wat van die rentmeester se tafel mag val. Net te dankbaar dat iemand anders gekies is om onder eie dak op ‘n onmenslike, vernederende en grusame manier vermoor te word.

En so is dit dan ook die siening onder baie van ons volksgenote dat ons nie beter verdien nie. Want sien, Apartheid het van ons almal monsters gemaak, en daarom verdien ons geen agting, respek of plek in die land wat ons voorvaders se hande gebou en die bloed van ons voorsate gekoop het nie.

Met dié wanvoorstelling word ons kinders op skool gevoer en met die leuens van ‘n oorweldigende oorwinning teen die goddelose blanke regering word hulle jong verstand gevorm. Met die verloëning van morele waardes en die onderdrukking van Christelike beginsels word hulle siele deur die media gevoer.

Nêrens word die waarheid van ‘n Godvresende volk se stryd tot eenvoudige oorlewing opgeteken, erken of vereer nie. Nêrens is daar plek vir vertellinge van die hoë prys wat betaal moes word om ‘n land,‘n nasie, ‘n wêreldmoondheid te breek uit die rou rots van ‘n ongerepte stuk wildernis nie.

Die heldemoed, die geloof, die patriotisme en trots van ‘n hele volk word afgemaak as verregs en selfs die kontemporêre musiek wat hierdie sluimerende emosies weer wakker maak word blitsig onder klippe gesteek en ten sterkste veroordeel. Dit alles kan nou verander.

Nou dat die hele wêreld kennis geneem het van die wreedheid van die aanslag teen Afrika se enigste wit volk, is die tyd ryp om daarop te wys dat hulle swart messias, die kommunis Nelson Mandela, voete van klei het en dat sy gewelddadige rewolusie nog nie verby is nie.

Dit stel ook elke lid van ons volk voor ‘n kruispad. Die tyd het gekom dat elke man, vrou en kind sy of haar eie hart in hande neem en kyk of dit soos die wêreld beweer, vol haat en waansin is en of dit daar êrens genoeg volkstrots en vaderlandsliefde skuil vir die positiewe strewe na vryheid.Die oorwinning begin in ons gedagtes en ons geloof.

Tuesday 6 April 2010

Van Riebeeck Dag

Dit is vandag 358 jaar gelede dat Jan van Riebeeck en sy ongeveer ‘n 100 man in Tafelbaai voet aan wal gesit het. Saam met hom, byna as ‘n soort onsigbare pakket, het hy die beskawingserfenis van die Christelike, Westerse wêreld hier kom plant. Nie dat sy mense sulke fyn-beskaafde mense was nie, maar hulle het uit daardie leefwêreld gekom.

So het, vir die eerste keer in die geskiedenis van Suidelike Afrika, ‘n hardwerkende, doel-bepaalde gemeenskap hulle hier gevestig. Algaande het hulle en hulle nasate die aangesig van Suidelike Afrika verander. Die kinders van Europa is mos rustelose, immer-besige, hardwerkende, ondersoekende mense wat bou en verander en altyd probeer verbeter en vooruit gaan. Geen wonder dat hulle teenwoordigheid en bedrywigheid as steurend, verdrukkend en onnodig ervaar is…’n teenwoordigheid wat wrewel en afguns en haat opgeroep het want hulle het die rus, die noodsaak om niks te doen, versteur.

Interessant is verder dat die Hollanders van Jan van Riebeeck se tyd en daarna, anders as die Engelse, nie ‘n kolonie aan die Kaap wou vestig nie. Die Hollanders, so lyk dit, is nie lief daarvoor om ander mense te onderwerp, oor hulle te regeer en hulle te verdruk nie. Daardie tradisie word eers vanaf 1806 met nadruk hier ingedra.

Die opvallende van die Hollanders was dat hulle langs die inheemse volke hulle verversingspos wou vestig. Dit was ook nie moeilik nie want die Hottentotte was swerwer-veeboere wat nie aan een plek gebind was nie. Vandaar dat Van Riebeeck betreklik maklik in vreedsame naasbestaan sy verversingspos kon opbou.

‘n Tweede interessantheid was dat Van Riebeeck, in 1654, twee jaar na sy aankoms, begin het om die dag en datum van sy landing te gedenk. Daarvoor het hy 6 April as ‘n vas-blywende dank- en biddag ingestel…”sodat daarby die weldade van die Here wat Hy aan ons bewys het, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis in herinnering gehou sal word.”

In ons dae waar die Afrikaner altyd in die spervuur is, word deesdae nogal heelwat daarvan gemaak dat die Afrikaner homself as ‘n “uitverkore volk” sou beskou. Die argument word dan gebruik om aan te dui hoe agterlik die Afrikaner in sy denke sou wees.

Die soort verdraaide denke is miskien moontlik omdat die Afrikaner nie skaam was om aan te dui dat hy onder ‘n verpligting teenoor God staan nie en dit uitgedruk het deur die begrip “roeping”. Net so word die feit dat die Afrikaner ‘n paar maal ‘n Gelofte aan God afgelê het, uitgelê as ‘n bewys dat die Afrikaner homself as uitverkore beskou. As gelet word op die teks van die Geloftes wat die Afrikaner gemaak het, dan is dit duidelik dat die Afrikaner ‘n baie duidelike besef het dat hy ‘n verpligting teenoor God het en nie andersom nie! Want al die Afrikaner-Geloftes verplig telkens die volk opnuut tot die diens van God! Dit dui eerder op gehoorsaamheid en diensbaarheid aan God.

In Van Riebeeck se Gelofte word duidelik gesê dat vanweë die feit dat die Here God sy hand oor die nedersetting gehou het en hulle geseën het, daarom sal hulle 6 April in dankbaarheid gedenk sodat hulle daarin nie sal tekortskiet nie. Hierdie saak is belangrik want ons wat mens is, is gou om tot God te roep vir hulp, maar nie altyd so nadenkend om ons dankbaarheid uitdruklik te betoon nie. Miskien kan dit daarom oorweeg word, al is dit net in ons Afrikaanse kerke, om die Gelofte van Van Riebeeck op 6 April in ere te hou en te gedenk om so God vir sy ontferming te dank.