Tuesday 31 May 2011

Republiekdag

Dit is vandag 50 jaar gelede dat ons land 'n Republiek, buite die Engelse Statebond, geword het. Dit was toe net 51 jaar nadat die twee voormalige Afrikaner-republieke in die "gedwonge huwelik" met die twee Engelse kolonies en die swart volke in hulle midde, in die Unie van Suid-Afrika ingepas is. Dit was eers met republiekwording in 1961 dat die Afrikaner die geleentheid gekry het om ook die swart volke se tuislande op koers te plaas na onafhanklikheid sodat hulle oor hulleself sou kon regeer.

Vyf jaar later is die eerste herdenking van die nuwe Republiek gehou. By daardie geleentheid het dr. HF Verwoerd, die aand na die groot militêre parade, 'n belangrike feesrede gehou. 'n Paar aanhalings uit daardie rede laat mens vandag ver terugdink.

"As so teruggeskou word", het dr. Verwoerd gesê, "sal nie net 'n heroïese gesien word nie, ... maar ook 'n helder siening van die twee, bekende teenoorgestelde strominge in ons volk.

“Daar was die een stroom wat wel gesoek het na. selfstandigheid, maar 'n selfstandigheid ingeperk binne 'n groter geheel, 'n strewe na 'n selfstandige Suid-Afrika as deel, eers van die Britse Ryk en later van die Statebond ... "

"Daarnaas was daar die tweede stroming: die strewe na 'n nasie wat onafhanklik wou word, geheel en al vry, van alle bande los, maar tegelyk in volle vriendskap met diegene aan wie hy voorheen verbonde was. Dit was die stroom van egte nasiewording en die begeerte na 'n Republikeinse vorm om die vryheid te beklee ..... daar was 'n strewe na eenheid binne die volk alleen: 'n samevoeging van diegene wat as volksgenote bymekaar hoort, trou aan mekaar, trou aan land en volk en dan eers vriende met almal daar buite ….”

In die loop van sy toespraak het hy ook verwys na die brekers en die bouers. Die brekers het hy so omskrywe:" .... dan is daar diegene wat die Republiek alleen sal aanvaar as dit veelrassig is of selfs 'n swart Republiek is ..... Maar vanaand wil ek nie praat met die brekers nie .... Met hulle wat Suid-Afrika nie kan sien soos hy gegroei het nie en wat nie die groot ideale kan raaksien wat gekoester word vir die swart volke nie, maar alles wil verander. Hulle wil 'n heeltemal nuwe soort staat skep wat rampe en chaos sal moet trotseer soos elders in Afrika….”

“Laat ons wat bouers is die toekoms met vertroue en hoop tegemoetgaan .... "

"Op internasionale gebied lê egter die vraag van die toekoms. Daar is ‘n pad wat ons ter wille van ons voortbestaan moet loop. Kan ons by die volkere van die wêreld begrip kry vir die eerlikheid van ons strewe dan het ek geen twyfel nie ." ..

"Sou hulle egter uit eie selfsug, om eie steun vir eie doeleindes te verkry van ons offers wil maak ..... dan sal die toekoms vir ons donker wees.”

En so het dr. Verwoerd sy rede toe afgesluit : "Die vuur wat die harte van mense staal, sal ons in stand hou. Ons sal ons met hart en hand bly toewys aan ons volk en ons vaderland ..... "

Drie maande later is dr. Verwoerd vermoor omdat daar waarskynlik nie 'n ander manier was om die "brekers" aan bewind te kry nie. En so het die toekoms vir die Afrikanervolk donker geword .....
Maar laat ons vashou aan daardie woord waarmee ons in 1966 saamgestem het : Ons sal ons met hart en hand bly toewy aan ons volk en ons vaderland..