Friday 21 October 2011

Paul Kruger

Oom Paul Kruger dien tot vandag as voorbeeld en besieling vir ons volk. Wie kan ‘n uitsonderlike mens beter beskrywe as ‘n ander uitsonderlike mens. Vandag laat ons Langenhoven oor Paul Kruger praat:

Die hoogte en die diepte van Paul Kruger se krag was daarin dat hy van twee maal twee altyd vier gemaak het en hom nooit bedrieg het met slimme sofismes nie. ‘n Regte ding, volgens sy lig, was vir hom reg en ‘n valse ding vals so lank as die wêreld staan.

Teenoor andersdenkendes was hy die minste en of bekrompe van alle mense – minder bekrompe as wat ons vreeslik liberaal-denkendes vandag is, met al ons selfverheerliking oor ons “broadmindedness”.

Maar as hy teenoor ander mense sag was, teenoor homself was hy erger en streng. By sy eie selfbeoordeling was hy nooit liefdadig en barmhartig nie.

Paul Kruger het altyd die regte pad instinkmatig raakgesien. Ek lê nadruk daarop omdat ‘n mens dikwels die regte voorganger nie na waarde kan skat nie, juis omdat hy reg geloop het.

As daar honderd moontlike paaie is waarvan een alleen die regte is, dan is dit maklik om agterna op elkeen van die nege-en-negentig te wys en te sê waarom hulle verkeerd gegaan het. Maar die een regte pad, juis omdat hy die regte was, lyk agterna so natuurlik en vanselfsprekend dat ons ons almal verbeel ons sou daardie een gekies het. Almal agterna.

Bo menslike verstand en logika verby, het Kruger daardie óú Doppergeloof gehad dat regverdigheid ‘n volk verhoog. Baie dikwels, volgens hierdie beginsel, is dit juis die pad wat nie betaal nie, die ongemaklike pad, die pad van offer en lyding, wat na die uiteindelike geluk lei.

Dís die pad wat na die besef lei dat ons helpers van God is om die toekoms te maak; die Kruger-besieling van: Myne is my eie, nie om te verwaarloos nie, maar my eie om te handhaaf, want God het dit aan my toevertrou.

As ‘n oningewyde vreemdeling my sou vra: Wat het julle Boerevolk gedoen om julle bestaan te regverdig?, dan sou ek antwoord en sê:

Ons roem is in ons geskiedenis – lees hom.

Ons roem is in ons lyding en opoffering.

Ons roem is dat ons skoon gebly het in omstandighede waarin elke ander volk vervuil geraak het.

Ons roem is in ons letterkunde – vergelyk wat elke ander nasie in sy eerste vyfhonderd jaar gedoen het teen wat ons in vyf-en-twintig jaar gedoen het.

Maar die hoogste wat ‘n volk kan voortbring, is ‘n man. En ek wys jou ‘n takhaar-dopper. In die hele geskiedenis van die wêreld, in gelyke omstandighede en met gelyke nadele, is daar nie een, staatsman of volksleier, wat naby sy gelyke is nie.

Cromwell was ‘n dweper, Bismarck was gewetenloos, Napoleon was ‘n selfsoeker.

As ons maar net ‘n deeltjie van die baie wat ons kry so sou benuttig as wat hy benuttig het die geheel van die min wat hy gekry het.