Wednesday 21 April 2010

Ras, rassisme en vanselfsprekende feite

Die linksgesinde openbare media, veral die Afrikaanse koerante, het blykbaar die taak op hulself geneem om rassisme wortel en tak uit te roei, maar met hulle gewone dubbele standaarde. Dat die aanstelling van regters moet voldoen aan rasvereistes, is nie vir hulle so erg nie. Solank dit net nie lyk of daar blankes is wat dalk hunker na die weelde van selfregering nie. So asof die werklikheid sal verdwyn as daaroor geswyg word.

‘n Mens kan jouself dalk oortuig dat daar diegene is wat eerlike en edele bedoelings het om rassisme te laat verdwyn. In die openbare media is rassisme egter meesal net die verskoning vir Afrikanervyandigheid.

Die feit dat die interne struwelinge in die ANC sterk etnies-gedrewe is, word verswyg. Dít, sê die media, is ANC-huismoles en buitendien behoort Zoeloes en Xhosas aan dieselfde ras. Rassisme is blankes wat nie wil aanvaar dat swartes die land kan regeer en dit inderdaad doen nie! Om terug te hunker, of erger nog, uit te sien, na blanke selfregering, is growwe rassisme.

Die regering se beleid van diskriminasie teen blankes, word nie naastenby so skerp deur die openbare media veroordeel nie. Hulle reken skynbaar hulle hou die balans deur rassisme tirades op Malema uit te stort. Só val hulle mos die euwel uit alle rigtings aan en die Afrikanerlesers behoort darem nie te voel hulle is altyd aan die ontvangkant nie.

Dat rassisme aan die oplaai is, is geen verrassing nie. Die kultuurverskille tussen mense loop ook duidelik op die rasseskeidslyn. Kultuur is meer as taal, kookkuns, danspassies en rituele. In Suid-Afrika wys kultuurverskille duidelik in die aanvaarding van verantwoordelikheid, voorsiening vir die toekoms, produktiwiteit, en integriteit. Dit is eintlik die maghebbers se manier om deur regeringsoptrede die welvaart in te palm sonder om daarvoor te werk, wat blankes die harnas in jaag.

Die inslaan van die Afrika-roete, wat die een na die ander staat oor die afgrond van magsvergryp, geweld en anargie laat stort het, móét mos die nugterdenkende Afrikaner na die bekende alternatief van selfregering laat kyk.

As daar ooit ‘n tyd was om die Europese model na te volg, is dit nou. Die vooruitgang van daardie volkere, staatkundig van mekaar se kultuurverskille geskei, hoef nie eers beredeneer te word nie. Die Duitsers en die Oostenrykers bedryf elk hulle eie universiteite en stel rektore aan op meriete, kies hulle eie spanne sonder kwotaspelers en stel hulle eie regerings aan, sonder ‘n soustrein. Albei volke praat Duits en het tipiese germaanse raseienskappe. Die Duits-Oostenrykse kultuurverskil is waarskynlik kleiner as die Zoeloe-Xhosa kultuurverskil.

Onweerstaanbare magsug, simptomaties van die Afrikamislukkings, dwing egter soveel moontlik onder een maghebber in. Mugabe huiwer nie eers om sy politieke invloed met weermaggeweld af te dwing nie.

Dat die ANC weinig kritiek het teen hulle “struggle”-vriend Mugabe se optrede, is logies. Dat daar van Afrikaners verwag om voor te gee dat ras geen rol speel in die negatiewe wat ons daagliks uit ons staatkundige opset ervaar nie, is sotheid.

As die erkenning van rasverskille deel vorm van logika, dan is dit nou maar eenmaal so en as die keiser kaal is, moet iemand dit een of ander tyd sê!

No comments: