Friday 9 April 2010

Bly aan die regte kant

Al hoe meer voorvalle vind plaas waardeur die politieke klimaat in die land opgejaag word. Dit wil voorkom of die blanke uitgetart en geprovokeer word tot die uiterste toe. Dit is nie net die moorde op ons boere, ons volksgenote, ons leiers nie, maar die openlike uittarting, en die aanhitsing teen ons wat waarskynlik op die lange duur nog meer gevolge gaan inhou.

Intussen is dit duidelik dat die blanke oor die algemeen tans baie beheers optree, alhoewel hy in werklikheid kokend van woede is.

Die ANC-regering het waarskynlik gehoop vir voorvalle van opstand of vergelding, wat dan vir hulle die geleentheid sou kon gee om weer eens met kragdadigheid toe te slaan om ‘n beweerde blanke opstand teen die staat plat te slaan, en ons weer eens in die beskuldigdebank sou kon plaas.

Daardie voorvalle het nie plaasgevind nie, en ons merk ‘n frustrasie onder ANC-geledere dat die Afrikaners en die blankes in die algemeen, steeds die sogenaamde hoëgrond beset. Vandaar die een provokerende optrede na die ander: om ‘n AWB-man in ‘n TV-debat die lewe sodanig te versuur dat hy moet uitstap, of Malema wat ‘n blanke joernalis wegjaag en hom as ‘n “basterd” beskryf.

Intussen woel dit in polisiegeledere. Daar is selfs al uit polisiegeledere die bewering gemaak dat blankes self vir die moord op mnr. Eugene Terre’Blanche verantwoordelike was, om ‘n situasie te laat ontstaan wat die Wêreldbeker-sokkertoernooi kan laat ontspoor. Enkele van die laaste oorblywende goedgesindes in die polisie het ook al gewaarsku dat daar weer klopjagte beplan word op blanke en sogenaamd regse leiers, en dat selfs goed geplant kan word om ‘n rede te hê om hulle te kan arresteer.

Die feit van die saak is dat dit die laaste tyd duidelik geword het dat die Boerevolk weer besig is om op te staan, en dat daar onder die Afrikanergemeenskap ‘n al groter wordende gees van verset besig is om pos te vat. Dit word bewys deur herhaalde meningsopnames waaruit dit blyk dat die Afrikaners genoeg gehad het van die bestel en die eenheidstaat en aan alternatiewe begin dink. Daardie gees van verset moet vernietig word, want die ANC weet ook dat die Boerevolk, die Afrikanersakeman, die gans is wat die goue eiers lê en wat sy ekonomie aan die gang hou. Daarom moet daar eenvoudig ‘n stok gevind word om hom mee te slaan.

Ons moet egter sorg dat ons geen stok in sy hand kan plaas nie. Ons moet wel die bestaande situasie gebruik om deeglik te beplan en nuut te dink oor hoe ons kan oorleef op die kort termyn, maar hoe ons kan vry word op die langer termyn. Ons moet sorg dat daar geen vinger na ons gewys kan word in terme van bestaande wetgewing nie. Daarom moet volksgenote seker maak dat hulle nie, dalk selfs net per ongeluk, in besit is van enige onwettige materiaal nie. Gaan u kluis deur, en maak seker dat daar nie dalk ‘n verdwaalde patroon is van ‘n wapen wat u lank terug al verkoop het nie. Sorg dat u nie eens een of ander grappie op u rekenaar het, wat later gebruik sou kon word as dat u dalk opruiende materiaal in u besit het nie.

As die polisie dalk met hulle hordes wil kom om huissoeking te doen, sorg dat u prokureur of advokaat se nommer byderhand is, en laat weet hulle dadelik, nog voordat die deur vir die polisie oopgemaak word. Maak seker dat die wat daar is, wel polisielede is. Vra om die deursoekingslasbrief deur die venster te sien, sonder om deure oop te maak. Maak seker die polisieman se aanstellingsertifikaat is geldig. En beweeg saam met die deursoekingspan, indien moontlik met nog ‘n getuie, sodat hulle nie goed kan plant en u later daarvoor vervolg word nie.

Tot dusver kon ons mense nog nie op die groot goed gevang word nie, moet nie nou onnodig op risiko geplaas word deur klein foutjies nie, maar laat ons meer as ooit onsself wetlik korrek beveilig, en inmiddels net so wetlik korrek werk en bou aan ons republikeinse onafhanklikheid, wat nou dringend word.

No comments: