Thursday 15 April 2010

Wie vorm jou mening?

Ons is gevaarlik blootgestel. Die misleiding van ons mense deur die destydse Nasionale Party en sy vennote, en dié se welkome verdwyning, het ’n leemte gelaat, wat deur ’n nog gevaarliker mag ingeneem is. Die aanslag kom nou uit ’n oord wat ons nog steeds in ons huise toelaat, naamlik die groot Afrikaanse koerante. Party van ons weet darem teen dié tyd dat die televisie ‘n Trojaanse perd is.

Die gemelde koerante kom uit die Media24-stal. Op die oog af, bewonderenswaardig Afrikaans, word waar moontlik deur werklose volksgenote verkoop en dra gereeld ’n waardevolle Christelike boodskap. Kyk egter dieper.

Die onlangse moord op ’n groot leier in Afrikanergeledere, het die koerante se ware kleure blootgelê. Dat daar reeds meer as 3000 plaasmoorde op blankes was sedert “demokrasie”, dat die AWB reeds jare al ’n lae profiel handhaaf, en dat die moord op Eugène TerrèBlanche deel is van ’n opwellende vlaag plaasmoorde, hou vir Rapport blykbaar geen verband nie. Die Rapportberig wil so graag die AWB met die Malema-spul gelykstel. Oor die Cosatu-betoging ter ondersteuning van die moordenaars, rep hy g’n woord nie. Ook die hoofberig swyg oor Cosatu se militantheid en uitlokkende optrede deur byvoorbeeld ‘n massavergadering op Ventersdorp te reël om met die Eugène Terre’Blanche-begrafnis saam te val.

In weerwil van die groot rol wat Solidariteit en dr Dirk Hermann speel met betrekking tot die belange van veral blankes en die beskerming van wit en swart se burgerregte, wy Rapport op 4 April 2010 bykans ’n hele hoofartikel daaraan om dr Hermann af te skiet. Solidariteit se aansienlike suksesse word verswyg en arm Afrikaners se ellende word uitgebuit om hulle aan ANC-genade uit te lewer.

’n Week later laat professor Jakes Gerwel, voormalige ANC-presidensiële raadgewer, die aap uit die mou. Solidariteit móés die vorige week afgekraak word sodat dit darem nie té belaglik klink nie, as die geleerde professor voorstel dat Cosatu die leisels moet vat om, te midde van die verdeeldheid in die Suid-Afrikaanse bevolking, die “gedeelde goedheid” in die regte rigting te stuur.

Dit is nou die instansie wat steeds kommunisme en swart bevoordeling aanhang ondanks bewese mislukking.

Stakings en massa-aksie is tot nou toe Cosatu se belangrikste suksesse, tensy professor Gerwel weet van prestasies wat om een of ander rede geheim gehou word.

’n Verdere Rapport-slimmigheid sien op 11 April 2010 die lig toe Mathatha Tshedu, hoof van Media24 se Joernalistieke Akademie, sy standpunt stel. Nadat hy sy verlede as ANC-terroris so terloops meld, stel hy dit duidelik dat hy nie dink die gewraakte Malema-lied moet verbied word nie. Daarby is hy van mening dat die beweerde loongeskil tussen Eugène Terre’Blanche en sy moordenaars, meer sensitiwiteit regverdig. Dat ET sy verdiende loon gekry het, is die stelling wat hy eintlik maak.

Natuurlik is ons nie verras deur Gerwel en Tshedu se standpunte nie. Dit is presies wat ons van hulle as ANC-dissipels verwag! Die gesag waarmee die twee in die Afrikaanstalige koerante beklee is, die gedweënheid van die joernaliste met Afrikaansklinkende name wat die leiding van Tshedu en Gerwel aanvaar en die argeloosheid waarmee Afrikaanssprekendes die koerante in hulle huise ontvang, is die onrusbarende verrassing. Ons word daagliks besmeer met hierdie tipe berriggewing deur Afrikaanstalige koerante.

Moet ons Volk se vyand juis ’n bom in Kerkstraat laat ontplof of ‘n buurman met pangas dood kap voor ons hom sien vir wat hy is?

No comments: