Friday 7 May 2010

Ontnugtering en visie

Die man wat baie Afrikaners onder die ou bedeling grensloos geïrriteer het, nie net met sy uitsprake nie, maar ook veral oor die manier en stemtoon waarop dit oorgedra is, Desmond Tutu, is deesdae ‘n erg ontnugterde man.

Tutu was die man wat die sogenaamde Waarheids- en Versoeningskommissie moes lei, om sogenaamde apartheidsmisdade uit te snuffel, en om dan “versoening” te bewerkstellig. Die tranedal van die WVK is deur niemand werklik ernstig opgeneem nie. Afrikaners het in groot getalle die affêre geïgnoreer, en die ANC kon nie daarvan gebruik maak om ‘n soort Neurenberg-vervolging te begin nie.

Tutu het nou erken dat die WVK ‘n mislukking was, juis omdat die wit mense nie genoegsaam daarby betrokke geraak het nie. Met hierdie opmerking erken hy dus dat witmense nodig is vir iets om te slaag.

Verder kla Tutu oor die korrupsie en grypsugtigheid, gebrek aan idealisme, misdaad en plaasmoorde, agteruitgang van dienste. Hy reken naamsveranderinge is vermorsing van energie. Kafferskraal kan dalk verander word, reken hy, maar Pretoria kan maar Pretoria bly.


Uiteindelik kom hy tot die slotsom dat Suid-Afrikaners in die algemeen hulle trots verloor het, en hy erken dit is nie te wyte aan armoede of apartheid nie. Tog word apartheid wel bygetrek as hy sê dat Afrikaners blameer is vir apartheid, maar in wese behoort elke witmens veroordeel te word vir apartheid, want nie net die Afrikaners het voordeel daaruit getrek nie, maar elke witmens.

‘n Mens sou seker nie kon verwag dat Tutu heeltemal teen die ANC en sy praatjies draai nie. Maar as ‘n man wat die wêreld al gesien het, kan hy nie ignoreer dat sy eie mense van die land ‘n gemors maak nie.

Maar waar Tutu sê dat ons dalk ons trots verloor het, maak hy juis die onderskeid tussen die “ons” en die “hulle”. Ons “ons” is die Boere- of Afrikanervolk. Ons het gelukkig nog nie ons trots verloor nie. As ons dit sou verloor het, sou ons lank al ondergeploeg gewees het. Tutu probeer weer die apartheidskuldgevoel so ‘n bietjie opwarm, maar ons is lankal daarby verby. Diegene wat apartheid vir persoonlike voordeel gebruik het, het ook tereg aan die pen gery. As volk hoef ons geen verskoning vir apartheid te maak nie, want dit het die ander volke van Suid-Afrika opgehef, hulle onderrig gegee wat hulle anders nie sou gehad het nie, het hulle etnies uit mekaar gehou dat hulle mekaar nie sou uitgewis het soos wat gebeur het voordat die Boere die binneland ingetrek het nie.

Ons volk hoort nie onder diegene na wie Tutu verwys wat hulle trots verloor het nie. Ten spyte van sestien jaar van ANC-afbrekery, is ons steeds trots op die stede wat ons volk gebou het, die spoorlyne wat gelê is, die paaie wat gebou is, die hospitale, skole en kerke wat gebou is, die ekonomie wat ontwikkel is.

As Boere- of Afrikanervolk is ons steeds trots op ‘n Van Riebeeck wat uit niks met iets begin het. Ons is trots op ons voorouers wat onderdrukkers kon verlaat, en die woeste binneland van Suid-Afrika in onsekerheid binnegegaan het, om daar te bou en te ontwikkel en twee wêrelderkende modelrepublieke kon bou. Ons is trots op ons voorouers se welslae by Majuba, maar ook is ons trots hulle wat die magtige Britse ryk die oorlog aangesê het en die hoogste offers daarvoor gebring het. Ons is trots daarop dat ons ‘n Volkskas kon bou, Federale Volksbelegging, dat ons petrol uit steenkool kon maak, en dat ons die staalreus Yskor kon bou. Ten spyte van verraad wat dit alles uit ons hande laat gaan het, bou ons weer daaraan, en is ons trots om deel en betrokke te wees by ons volk se ekonomiese en kulturele heropbou. En bowenal is ons trots om kinders genoem te kan word van die Lewende God van Bloedrivier, wat ons weer tot hoogtes sal neem as ons na Sy weë terugkeer en daar bly. En omdat ons juis hierdie trots het en koester, sal dit ons motiveer om weer ‘n vrye volk te word, waar al die wanfunksies waarna Tutu verwys, eenvoudig nie sal voorkom nie.

No comments: