Monday 24 May 2010

Reaksiepolitiek

Twee bykans onverwante sake toon hoe kiesers op die politieke landskap kan reageer.

Pas is bekend gemaak dat partypolitiek as deel van studentepolitiek waarskynlik by Kovsies afgeskaf gaan word. Terselfdertyd toon ‘n opname in Nederland dat politieke partye in Nederland meer regse uitsprake maak vir die komende algemene verkiesing as wat selfs die partye se eie verkiesingsmanifeste aandui.

Dit is ‘n bekende feit dat politiek in Wes-Europa ‘n groot regse of nasionalistiese oplewing beleef.

Daar word ook gevra hoekom die kiesers in verskeie Wes-Europese state die liberalisme – eintlik permissiwiteit – van die laaste kwart van die vorige eeu die rug toegekeer het en partye met ‘n Christen-demokratiese inslag weer aan bewind gestel het. Dit lyk ook asof die Christen-demokratiese era dalk ‘n soort van tussenfase kan wees vir ‘n skuif na nog verder regs.

Die verklaring vir die skuif is heel waarskynlik soortgelyk as die verklaring vir die beweging in studentepolitiek op voormalige Afrikaanse universiteite. ‘n Beweging wat deur baie beskryf word as polariserend.

Met die oopstel van hierdie universiteite het die dinamika vinnig verander. Dit het gepaard gegaan met ‘n afskaling van Afrikaans en ‘n verandering in kultuur. Dieselfde links-radikale politiek wat studentepolitiek op die ou swart kampusse gekenmerk het, het oornag ook op die tradisionele Afrikaanse kampusse kom nesskop. Dit het die dieselfde soort van studenteprotes ingesluit.

Skielik was daar nie meer ruimte vir die sogenaamde middelgrond nie. Tradisionele Afrikaanse studente-organisasies moes partypolities begin saamstaan of verdwyn.

Universiteitsowerhede het nie juis met Salomo se wysheid op die gebeure gereageer nie.

In die klaskamers word die teorie geleer van elke aksie wat ‘n teenreaksie tot gevolg het, maar as dit in die praktyk neerslag vind, word kopgekrap en opnuut reaktief opgetree.

Die opkoms van Christen-demokrasie in Wes-Europa word onder meer toegeskryf aan ‘n oorversadigheid van permissiwiteit soos sekswinkels op straathoeke, bordele, aandrang op die wettiging van dagga en ander dwelms, gru-reaksie op massaslagtings deur aborsies en ‘n koerslose jeug wat hulle tot sake wend soos die Bader-Meinhoffs. ‘n Tweede faktor is die invloei van mense uit Oos-Europa met konserwatiewer Christelike waardes.

‘n Persepsie bestaan voorts dat baie van die misdaad ook na nie-Christen immigrante uit minder ontwikkelde lande teruggelei kan word. Te midde van die opskiet van moskees het sogenaamde post-Christelikheid as mode sy glans verloor.

Die inklusiwiteit van die Europese Unie het ook tot gevolg dat plaaslike nasionalisme, selfs dit wat amper vergete was, op die een of ander wyse weer lewend geword het. Skotse en Walliese parlemente is ingestel, en word na hul webwerwe gekyk, straal die trots uit die gehalte daarvan. Vlaandere raak nukkerig met sy blok-aan-die-been, maar meerderwaardige Walloniese landsgenote. Die Friesiese kultuur blom en verskillende dialekte daarvan word afgestof. Brabants het sy eie Bybelvertaling gekry.

Plaaslike universiteitsowerhede wat meen om studente, met verreweg beter kwalifikasies as die gemiddelde Suid-Afrikaanse kieser, kunsmatig van die natuurlike verloop van studentepolitiek te beroof, herinner aan lesse wat Lord Milner ook al hier op Suid-Afrikaanse bodem moes leer.

Spreek eers die oorsake aan. Die simptome sal self daarop reageer.

No comments: