Friday 14 May 2010

Boer en leer in Afrikaans

Afrikaanse studente ken die begrip “massa” – dit is wanneer studente almal uit die klas uit loop wanneer die dosent laat is. Die begrip “staak” is egter baie vreemd in ons studentekultuur. Dit is eintlik tragies dat studente aan die Grootfontein Landboukollege so ver moes gaan om te staak om gehoor te word oor hulle taalregte. Ons hoop die oorwinning is permanent en nie net ‘n leë belofte van die Departement van Landbou op papier dat hulle nie Afrikaans sal afskaf nie. Maar kom ons kyk ‘n bietjie na die groter prentjie:

Hoe nader ‘n verkiesing kom, hoe belangriker word die handhawing van die ander tien amptelike tale se status. Skielik praat ministers wat voorheen nooit ‘n woord in Afrikaans gesprak het nie, met wisselende mates van vermoë die taal op TV.

Verder van ‘n verkiesing, en Afrikaans moet hom na die grondwethof wend om die regering se onwillige agterent in rat te kry om ‘n taalwet, wat die grondwet vereis, op die wetboek te kry. Dit was nie soseer die draling met die wet wat gepla het nie, maar wel die regering se repliek op die hofaansoek, naamlik dat Afrikaans self vir sy gebruiksagteruitgang en juridiese onderploeging verantwoordelik gehou word.

Maar maak Afrikaanssprekendes hul stem bietjie dik, al is dit om vanuit ‘n gewoonlik uiters gematigde oord ‘n briek aan te draai met die aftakeling van Afrikaans soos by Maties, dan is dit nie lank nie of ‘n minister of twee spring iewers woedend op en pak uit oor diegene wat transformasie in die wiele ry. Soms word dit blatant gestel dat die aandrang op ‘n regverdige aandeel vir Afrikaans deur baie mense as ‘n politieke daad van aggressie teen hulle vertolk word.

Dit bly bietjie ironies dat in ‘n land waar die meerderheid se woord wet is, dat dit niks tel dat die meeste studente by die landboukolleges Afrikaans is nie. Die stryd vir Afrikaans by die Potchefstroomse Landboukollege is ook nog aan die gang.

Die les is dat groot waaksaamheid aan die dag gelê moet word, en dat elke daad van Milnerisme van die kleinste en laagste vlak, tot die hoogste vlak, aangespreek moet word. Geen steen mag onaangeroer gelaat word nie.

Elkeen kan sy deeltjie doen.

Die feit dat Afrikaans van die nuwe gedrukte note verwyder is, beteken nie Afrikaanssprekendes se koopkrag is opeens daarmee heen nie. Laat jou geld praat of maak jou stem dik as ‘n instansie aan wie jy moet geld oorbetaal nie jou taal respekteer nie.

Soos byvoorbeeld die kollege of universiteit waar jou kind studeer. Dit gaan oor meer as net jongmense se akademiese prestasies wat oneindig makliker in ‘n moedertaal is. Dit gaan oor Afrikaans as sogenaamde hoër funksie-taal, met ander woorde as taal wat rats genoeg is om tot op die hoogste akademiese vlak gebruik te word. Wat vaktaal betref, raak dit al moeiliker om Afrikaanse inligtingsbronne te bekom. Elke klas waar Afrikaanse studente deur middel van Engels onderrig word, maak dit makliker om Afrikaans terug te stuur kombuis toe.

Laat ons wakker wees en optree.

No comments: