Sunday 23 May 2010

Wil jy régtig vry wees?

Stel jou voor, ‘n Bittereinder na byna drie jaar op kommando; in wind, weer, koue en reën; tot die dood toe moeg, uitgehonger, siek...

Sy plaas is afgebrand, sy eiendom gesteel, sy vrou en kinders konsentrasiekamp toe gejaag. Hy weet nie hoe dit met hulle gaan nie; weet nie eens of hulle nog leef nie.

En nou kom maak ‘n agent aan hom die voorstel: “Lê die wapen neer en al jou swaarkry is verby. Jy kan rus: sag, veilig en warm slaap, genoeg eet... Jou vrou en kinders kan uit die moordkamp kom en lekker lewe. Jy kan saam met ons werk en goed beloon word; selfs ryk word.”

Maar eer en vryheid weeg vir die Bittereinder veel swaarder as persoonlike gerief; meer selfs as sy eie lewe en die lewe van sy vrou en kinders. Want as ‘n mens nie vry en eervol kan lewe nie, hoe kan jy dit dan lewe noem?

Dit Bittereinder kies die moeilike weg – die weg van eer.

Sedert die begin van die Afrikaanse taalstryd het talle mense groot opofferings gemaak sodat ons volk ook wat taal betref, volwaardig volk kon word.

Vir Afrikaans het mense hulle posisie en hulle inkomste gewaag. Mense soos dr Hennie Terblanche het selfs doodsdreigemente ontvang, maar hulle het voortgestry en ons wonderskone taal tot stand gebring – ‘n taal opgewasse vir elke taak wat van ‘n taal verwag kan word; van die vertolking van die diepste sielsbelewenisse tot die oordrag van die mees gevorderde tegniese en wetenskaplike begrippe.

Van ons taalstryders, soos die einste Hennie Terblanche, Langenhoven, JHH de Waal, Eugene Marais en ander, was uiters bekwaam in Engels en ander tale. Die versoeking moes soms daar gewees het om eerder te verengels, te rus en geldelik vooruit te gaan, maar, soos die Bittereinders, het hulle die weg van eer gekies.

Vandag staan elkeen van ons voor ‘n besluit: Watter weg kies óns as ons taal ter sprake kom? En laat ons maar ‘n slag met mekaar eerlik wees – die prentjie lyk nie mooi nie.

Dit Bittereinder kon sy vryheid, voorspoed, die lewe van sy vrou en kinders koop as hy maar net die wapen sou neerlê, maar hy het geweier om te hensop.

Ons kry niks daarvoor nie, maar tog besoedel ons ons taal daagliks met vreemde woorde en uitdrukkings soos oukei baai, dabbeljoe-dabbeljoe-dabbeljoe dot-sie-ou dot-zet-ei, seedee, deeveedee, boelbaar en es-em-es terwyl ons eie taal sy eie, beter woorde het.

Niemand gaan ons eiendom afbrand of ons gesinne in kampe stop as ons die weg van eer kies nie, maar ons Polokwane en Mapoepalanga en Gauteng soos vrywillige hensoppers agter ons onderdrukkers aan.

Die Bittereinders en taalstryders kon veel wen as hulle wou oorgee. Ons wen níks met ons hensoppery nie.

Die offers wat hulle gebring het was groot; sien ons darem kans om bloot ‘n woord in ons eie taal te sê, of is dit te veel gevra?

Laat elkeen van ons onsself vandag vra: wil ek régtig vry wees? En as die antwoord ja is, laat ons dan begin lewe en praat soos mense wat regtig vry wil wees.

No comments: