Monday 10 May 2010

Die regbank

Die aankondiging deur die minister van Justisie, Jeff Radebe, dat die omstrede voorgestelde wysigings aan die hofwet geskrap gaan word, is wyd verwelkom. Die wysigings, wat al in die Mbeki-tyd voorgestel is, sou beteken dat politici meer seggenskap oor howe en die regstelsel sou kry.

Opposisiepartye, regspraktisyns en die regbank het die voorstelle sterk gekritiseer. Dit sou onder andere beteken het dat die minister van justisie die finale sê oor die howe se administrasie en begrotings sou kry.

Die nuwe wetsontwerp wat pas deur die kabinet goedgekeur is, beteken eintlik dat die status quo behou word. Die onafhanklikheid van die regbank word erken en die grondwetlike hof is die hoogste gesag in die land.

Dit klink alles pragtig, want regters is immers geleerde mense wat nie politieke ideologie gebruik as grondslag vir besluitneming nie. Hulle berus mos hulle besluite op die wette van die land en veral die grondwet.

Maar, is dit so pragtig as wat dit klink?

Sedert 1994 is Suid-Afrika amptelik ‘n regstaat. Baie mense, ook die Afrikaanse grondwetonderhandelaars het dit as ‘n outomatiese beskermingsmaatreël beskou. Met ‘n fantastiese handves vir menseregte word elke persoon se reg op lewe, veiligheid, godsdiensvryheid, spraakvryheid en assosiasie mos immers gewaarborg.

Maar kom ons kyk wat het in die praktyk gebeur en wat gaan in die toekoms gebeur:

Eerstens staan die regbank nie los van politieke invloed nie. Dit is politici wat besluit oor die aanstelling van regters en wat as eerste vereiste die sogenaamde transformasie van die regbank stel.

Dit is ook politici wat die wette van die land maak en nie noodwendig kundige mense wat regsbeginsels handhaaf nie – eintlik maar net die ANC meerderheid in die parlement. En weer eens val die hoofklem van al die wette en wetswysigings op transformasie en natuurlik die invoering van ANC/SAKP-beleid.

En dan is daar die wonderlike grondwet wat selfs voorsiening maak vir bepaalde vlakke van selfbeskikking en natuurlik al die ander persoonlike waarborge soos hierbo uitgespel. Die groot probleem van die grondwet is egter dat al die versekerings ondergeskik is aan die bepalings dat transformasie moet plaasvind ten gunste van die sogenaamd voorheen benadeeldes.

In die regstaat word babas vermoor, hulle het geen reg op lewe nie; word mense aangeval, ondanks die reg op veiligheid; word Afrikaanse skole gedwing om te verengels ondanks al die taalregte en mag ‘n vereniging of klub nie besluit watter kultuurgroep as lede toegelaat word nie, ondanks die reg op vrye assosiasie. Les bes: In die regstaat met sy onafhanklike regsliggame soos die openbare beskermer en die openbare vervolger maak die politici steeds nes hulle wil, soos die staatsleier wat “vergeet” om sy bates te verklaar en dan maar net aangaan.

Dit is goed om die instrumente te gebruik wat die staat ons bied om ons regte af te dwing, solank as wat ons kan, maar ‘n wet oor ‘n onafhanklike regbank bied geen waarborg nie. Ons enigste langtermyn behoud as volk is om uit die bestel te kom en ons eie grondwet te skryf.

No comments: