Tuesday 25 May 2010

Ons is steeds op koers

Ons het al by ‘n vorige geleentheid daarop gewys dat ons volksnasionaliste, wat die republikeinse vryheidstrewe aanhang, nie skielik regs of vêrregs geword het nie, maar dat dit in wese diegene is wat daardie ideaal versaak het, wat na links beweeg het.

Die beste voorbeeld daarvan het geblyk na die dood van die voormalige Prog-leier, doktor Frederick van Zyl-Slabbert. Ons gaan nie hier ‘n relaas gee van doktor Van Zyl-Slabbert se linkse politieke loopbaan, en sy rol in die geknoei en oorgawe aan die destydse ANC-terroristebende nie. Die geskiedskrywers sal mettertyd daaroor ‘n oordeel vel.

Ons wil net fokus op die rol van die media na Van Zyl-Slabbert se dood.

Dat die SABC-TV ‘n buitengewone lang huldeblyk op sy nuusbulletin gelewer het, is seker te verstane. Immers, die SABC is die His Masters Voice van die ANC-regime, en ons het die afgelope week gesien hoe hulle weer ‘n goeie politieke kameraad aangestel het as nuushoof. Van Zyl-Slabbert het baie gedoen om die ANC vanuit die bos na die onderhandelingstafel te lok, en netso het hy baie gedoen deur sy Idasa om seker te maak dat die oorgawe van De Klerk vreedsaam verloop sonder enige blanke weerstand. Hy was dus vir die ANC ‘n groot seun, en daarom dat hulle baie huil oor sy heengaan.

Insgelyks kan ander private radio en televisiestasies se rou oor Van Zyl-Slabbert verklaar word, want, alhoewel hy uit ‘n Afrikanerhuis afkomstig was, was hy ‘n Afrikaner met ‘n Engelse hart, soos die destydse Afrikaanse Patriot hom waarskynlik sou beskryf het. Die feit dat hy leier was van die hoofsaaklik Engelssprekende Progressiewe Federale Party, ondersteun die stelling.

Totaal verstommend, egter, is die voormalige Nasionale Party ondersteunde media, naamlik die Afrikaanse koerante van Naspers of Media 24. “’n Kolos sterf” was een van hulle se opskrifte, en bladsye word spandeer aan huldeblyke aan ‘n eertydse politieke vyand wat later die titel as leier van die opposisie moes afstaan aan die Konserwatiewe Party. Uiteindelik het hy dus maar ‘n uiters marginale deel van die land verteenwoordig, en daarom kan die huldeblyke dalk as erg buitensporig tot sy statuur beskou word.

Daardie selfde Afrikaanse koerante het egter destyds ‘n hewige stryd teen Van Zyl-Slabbert en die PFP gevoer, en hy is uitgeskel as Prog en wat nog. Nou was hy skielik die groot held en kolos van die Suid-Afrikaanse politiek, en selfs die ver-linkse Breyten Breytenbach moet aangehaal word om te verklaar dat die “laaste Afrikaner-leier” gesterf het. Mensig, wat ‘n oordadigheid aan liberalisme en oorgawe, en dit breedvoerig en simpatiek gerapporteer deur die Afrikaanse media, wat ons mense daagliks lees en die inhoud daarvan opslurp. Geen wonder dat ons onderskeidingsvermoë so aan die uiterste toetse onderwerp word nie.

Dit is dus heel duidelik dat die Afrikaanse sogenaamde hoofstroom media, die pad byster geraak het en na die verre linkerkant beweeg het. Vroeër was hulle stryders vir vryheid, Afrikaner selfbeskikking en die republikeinse ideaal. Vandag besing hulle juis die vernietigers daarvan. Vir hulle is daar nie veel méér beweegruimte na links nie.

Hier word dus weer heel duidelik bewys dat dit nie die sogenaamde regses wat regs geword het nie, maar dit is hierdie klomp wat uit ons hoofstroom van republikanisme weggebreek het na links en hulleself as linkse randeiers geposisioneer het. Ons moet net uiters waaksaam wees om nie deur hulle propaganda na links, of sogenaamde gematigdheid, gedwing te word nie. Ons moet sterk en onverbiddelik op ons republikeinse vryheidseis staan, soos die geslagte voor ons. Dis nie ons wat verander nie: ons is steeds op koers.

No comments: