Thursday 20 May 2010

Moeg vir bloed en sat vir taks

Die binnelandse nuustoneel word hierdie week oorheers deur misdaad en die landswye protesaksie teen misdaad. In feitlik elke dorp en stad is daar memorandums oorhandig waarin ‘n hele paar eise gestel word.

Min sake het soveel aandag op die land se misdaadvlakke gevestig soos toe die presidensie vroeër vanjaar geweier het om kruiwavragte vol protesmemorandums teen misdaad in ontvangs te neem. Met gister se optredes het die polisie deur die bank die petisies vriendelik in ontvangs geneem. Daar is sekerlik van bo af opdrag gegee dat die publiek nie nog verder die harnas ingejaag moet word nie.

Met Suid-Afrika wat onlangs die titel van die wêreld se moord-hoofsetel by sy voorheen verworwe titel van verkragtingshoofsetel gevoeg het, spreek dit vanself dat die kollig in die land deurgaans op misdaad sal val.

Met die een oog op die misdaadvlakke, is die ander oog op die polisie se vermoë om die misdaadgolf te stuit. Dit is nog maande voor die volgende misdaadsyfers beskikbaar gestel word, en ‘n polemiek het reeds daaroor losgebars.

Selfs op gemeenskapspolisiëringsvlak is daar nou glo ‘n opdrag om misdaadstatistiek in die omgewing van die publiek te weerhou. Dit is tog onredelik om van die publiek te verwag om betrokke te raak by misdaadbestryding, maar om hulle dan nie toe te rus om dit te doen nie. Net soos die metropolisie van Pretoria wat ‘n man beboet wat patrollies ry met ‘n groen lig op sy voertuig se dak. Die ironie is dat hy dit in samewerking met die Garsfontein-polisiestasie doen. Die een hand weet dus nie wat die ander doen nie.

Dit het veral duidelik na vore gekom in die parlement toe generaal Cele en sy span met die roede te make gekry het omdat hulle lastige vrae nie kon beantwoord nie, en toe uitstel gevra het om voor te berei. Een van die vrae wat nie beantwoord kon word nie, is hoe dit moontlik is om 3,2 miljard rand te gebruik om net 11 nuwe polisiekantore te bou en 12 polisiestasies op te knap. Dit is 139 miljoen rand per polisiekantoor.

Steeds verskyn berigte waaruit dit blyk dat ras eerder as bekwaamheid die bepalende faktor vir die toekoms van lede van die polisie is.

Dit strek van aanstelling tot bevordering tot dissiplinêre optrede. Die lugvleuel sal eerder onderbeman word, as om af te sien van die ideologiese beleid. Derduisende rand se belastinggeld sal eerder gebruik word om arbeidshofsake te beveg as om die beste persoon vir die werk aan te stel. Politieke en vakbond- affiliasies tel ook skynbaar meer as reg en verkeerd.

Baie mense sal sê dit help tog nie om net weer protes aan te teken en die polisie by die polisie te verkla nie. Daar was al hoeveel optogte en beswaarskrifte. Natuurlik verwag niemand dat die misdaadprobleem môre opgelos gaan wees nie, maar ons moet aanhoudend ons ontevredenheid op rekord plaas, sodat wanneer ons byvoorbeeld regtig eendag rug styfmaak en begin om ons beveiligingskostes van ons belasting af te trek, daar reeds ‘n goeie saak op die tafel lê.

No comments: