Monday 26 September 2011

Is haat regtig so kompleks?

Die haatspraaksaak teen die ANC jeugleier, Julius Malema, lok steeds baie bespreking uit, en die besprekings gaan toeneem noudat Gwede Mantashe van die ANC aangedui het dat hulle teen die uitspraak gaan appelleer.

Regter Colin Lamont het verlede week in die gelykheidshof in Johannesburg beslis die woorde “skiet die Boer” is haatspraak. Hy het Malema en die ANC verbied om dit weer te sing. Sedertdien is daar ‘n stroom van kommentaar deur kundiges en die publiek.

Die FAK het gereël dat daar ‘n simposium gehou word waar die regsverteenwoordigers wat by die saak betrokke was onder meer verduidelik waarom die saak nodig was. Vrae word byvoorbeeld gevra of die saak nie aan Malema ‘n groter platform gegee het as wat hy reeds het nie.

Aan die ander kant word daar geredeneer dat die bevel nie afdwingbaar is nie. Prof Lourens du Plessis, van Potchefstroom sê hy is ook nie ten gunste daarvan dat sulke liedere in die openbaar gesing word nie, maar hy vra hoe die bevel afgedwing gaan word.


Prof Pierre de Vos, grondwetkenner aan die Universiteit van Kaapstad, beskou die regter se bevel ook as moeilik afdwingbaar. Hy interpreteer Lamont se bevel só dat geen ANC-lid die lied mag sing nie, selfs nie eens op ’n private byeenkoms nie.
 
Volgens Gwede Mantashe kan die bevel nie afgedwing word nie, daarom appelleer hulle.
 
Tog snaaks dat die argument van “moeilik afdwingbaar” nie geld as dit kom by wette soos die vuurwapenwet of die gebruik van die gewraakte “k-woord” nie...
 
Die Instituut vir Vryheid van Spraak voer aan dat die uitspraak vryheid van spraak ‘n knou gegee het. Hulle sê “dit beperk ons vermoë om met die verlede om te gaan.”
 
Dr Mia Swart, voorheen van Wits en tans assistent-professor in die regsfakulteit van die Universiteit van Leiden in Nederland, het weer ‘n probleem met die minderheidstatus van die Afrikaner. Sy sê die minderheid moet kwesbaar wees en histories gesien kwalifiseer Afrikaners nie as ’n kwesbare minderheid nie.
 
Volgens haar is dit alarmisties en onrealisties om Malema of die jeugliga te beskuldig van volksmoord of aanhitsing tot geweld teen Afrikaners.
 
Miskien kan die skrywers van die boek, Treurgrond, seker maak dat die professor daar in Nederland ‘n kopie van die boek oor plaasmoorde kry – dit mag dalk haar oë oopmaak vir wat werklik aan die gang is.
 
Die aangehaalde kundiges en die Menseregtekommissie meen almal daar moet eerder debat gevoer word oor haatspraak as om hof toe te gaan. Deur die hofsaak aan te gaan het daar glo ‘n kans verby gegaan om sinvol oor die saak te praat. Alles natuurlik ter wille van versoening.
 
Die vraag is: Wie het die kans laat verbygaan vir versoening? Diegene wat moeg is daarvoor om te kyk hoe hulle geliefdes en volksgenote vermoor word; of diegene wat sing dat mense geskiet moet word, die party wat nalaat om die mense wat dit doen in die bek te ruk en nou weer dieselfde party wat bereid is om die saak verder te voer in plaas daarvan om by die uitspraak te berus?
 
Dit is tog duidelik van watter kant af die haat kom. Dit is glad nie so ingewikkeld nie.

No comments: